Matteus 26:33: “Daarop het Petrus vir Hom gesê: ‘Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.’ ”
As daar ooit iemand is wat voor baie keuses te staan gekom het, dan was dit Jesus se sterk dissipel, Simon Petrus. Van sy eerste ontmoeting met Jesus langs die visserswaters, moes hy al keuses gemaak het. Waarskynlik een van sy grootste keuses wat hy ooit moes gemaak het, was die keuse om die man van Nasaret, Jesus Christus, te volg. Die implikasie van hierdie besluit was dat hy alles moes los om Jesus te volg. Dit is lofwaardig!
Maar Petrus het ook ’n paar ander keuses en besluite gemaak wat nie so positief en lofwaardig was nie. Ons ken sy effense arrogansie en voor-op-die-wa- houding. Hy was die een wat dadelik uitbasuin het dat, al sou almal vir Jesus verlaat en in die steek laat, hy dit beslis nie sal doen nie. Miskien was hierdie keuse, of besluit, of aankondiging daarop gerig dat hy aandag op homself wou vestig, moontlik ’n stukkie propaganda vir ’n potensiële leiersposisie.
Verder sien ons dat Petrus in die drif van sy persoonlikheid, die verkeerde keuse gemaak het toe hy in Getsémané die slaaf van die hoëpriester se oor afgekap het. Hy het dit nie goed deurdink nie! Hy het die besluit om te veg, blindelings gemaak. Ons weet ook wat was Jesus se reaksie hierop gewees.
Die grootste hartseer was egter met die tragiese insident van Petrus se verloëning van Jesus. Hierdie ywerige, sterk, amper arrogante dissipel van Jesus vou onder die druk! Ons onthou hoe hy dramaties aangekondig het dat hy nooit vir Jesus in die steek sou laat nie, maar toe die druk toeneem en hy self in die gevaar kom van vervolging, toe vergeet hy daardie keuse wat hy gemaak het en hy trap in die strik waarin so baie van ons ook trap deur besluite onder druk te neem wat vorige besluite, of keuses kanselleer.
Ons leer so baie uit die verhaal van Petrus, ook later toe hy op die see uit die boot geklim het, om in voortvarendheid na Jesus te loop, om uiteindelik te sink, omdat sy geloof hom verlaat het.
Ek was self ook al baie keer in situasies waar ek keuses gemaak het met slegte uitkomstes. Die gevolge was gewoonlik baie tragies. ’n Keuse wat ons maak, moet te alle tye deurgevoer kan word. Die Engelssprekendes het ’n mooi gesegde wat sê: “You must walk the talk.” Jy moet ’n keuse maak, ’n besluit neem en ten alle koste daarby kan bly.
Hoe lyk die keuses wat ons elke dag maak oor ons volgelingskap van Jesus? Is daar nie by ons ook maar baie trekke van Petrus, wat vinnig onberekende besluite neem en dan later vou onder die druk nie? Jesus vra deurdagte keuses, keuses wat my lewe raak, keuses waarop sy koninkryk gebou kan word.
Gebed
Here, help my om reg te kies en daarby te bly.
Amen