Gedagte vir die dag | Saterdag 20 Februarie 2021

Filippense 2:8(b) “…en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”

Vir ons as gelowige, volgelinge van Jesus Christus is die lyding van die Here Jesus nie net ’n daad om in ons plek te sterf en namens ons die skuld te dra nie.  Ons kan ook so baie ander dinge leer uit die lyding van Jesus, en dit op ons eie lewe van toepassing maak.

Een ding wat uitstaan in die lewe en bediening van Jesus, is Sy absolute gehoorsaamheid aan sy Vader.  In al die tekste, waar Hy oor sy Vader praat, sien jy hierdie buitengewone lojaliteit en gehoorsaamheid aan Hom.  Hy het geweet wat die Vader se plan is, en tog was Hy bereid om dit end uit,  uit te voer.  Veral ook die plan rakende sy eie lyding en sterwe.

Hy het sy dissipels oor gehoorsaamheid  aan sy Vader geleer.  En dan, tydens sy lyding en sterwe, openbaar Hy die grootste denkbare gehoorsaamheid.  Selfs aan die kruis, en van die kruiswoorde, sien ons die lojaliteit aan sy Vader.  As Hy aan die kruis hang, is daar verskeie kruiswoorde waarin ons sy pyn en lyding duidelik kan sien.  Deur dit alles bly Hy egter gehoorsaam om Sy Vader se wil uit te voer.

As ons  in 2021 vir Jesus volg, as sy dissipels, maak dit ook ’n geweldige appél op ons gehoorsaamheid aan die wil van God en aan die opdragte van Jesus Christus.  Ons kan, en moet, ons liefde vir, en lojaliteit aan, Hom bewys in hoe ons sy opdragte uitvoer!

Mag die Here ons dag na dag help in hierdie groot taak.  Soos Hy, moet ons ook onder alle omstandighede gehoorsaam  wees en die wil van sy Vader prioriteit in ons lewens gee.

Gebed

“Sou ek U dan nie prys nie, aan U my dank nie bewys nie, al wag daar vir my ook ’n kruis.  Aan U my lofgebede, U skenk my die ware vreugde. U bring my na die Vaderhuis.”

Amen.