Gedagte vir die dag | Saterdag 2 September 2023

Lees: Psalm 103

Teks: Psalm 103:13 “Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

 GEDAGTE

Ons kan eenvoudig nie sonder God leef nie! Sonder God kan ons nie bestaan nie. Soos ’n klein kindjie afhanklik is van die sorg van sy ouers om te oorleef, en te leef, so is ons afhanklik van die sorg van God. Hy is ons versorgende Vader.

Daar is baie gedeeltes in die Bybel wat God se ontferming vier. En Jesus is self die verpersoonliking van Goddelike ontferming. Hy wat die Barmhartige Samaritaan se storie vir sy dissipels vertel het, is die Een wat, soos God, die verdruktes opgesoek het en in ontferming ’n “ligte” las en ’n “sagte” juk in plaas van die onbarmhartigheid op sy volgelinge gelaai het. Jy kan weet dat hierdie ontfermende God ook by jou lewe betrokke is en omgee vir jou en jou situasie.

Lank nadat ons in die steek gelaat is, ook deur hulle wat naby aan ons is, bly God by ons. Lank nadat mense hulle simpatie met ons betuig het en weer hulle loop gekry het, is God in groot ontferming by ons. God is uiters welwillend, behulpsaam, onbegrens vergewensgesind, onbeperk liefdevol en uiters ontfermend. God wat in liefde met ons een is, bewys aan ons dag na dag herhaaldelik goddelike dade van ontferming. God is nie maar net “uit ordentlikheid” by ons betrokke nie. Dit is nie maar net ‘n “goeie gewoonte” van God om vir mense om te gee nie. God is ver bo alle ordentlikheid en gewoontes om ‘n God wat oorvloediglik uitreik na mense te wees in sy groot ontferming.

GEBED

Die gebed vir vandag is Vonk 390

1.Heer, my God, ontferm U oor my,

luister na my stem, verhoor my!

Ek is ellendig, diep in nood,

gans en al van hulp ontbloot.

O bewaar my, U’s almagtig;

maak my weer u guns deelagtig;

red u kneg, verlos my nou,

waar ‘k alleen op U vertrou.

 

2.Heer, u goedheid is die lewe;

U sal mild ons skuld vergewe;

wie U aanroep in die nood,

vind u guns oneindig groot.

Heer, my God, ontferm U oor my,

luister as ek roep, verhoor my!

Merk uit goedheid, as ek spreek,

op die stem waarmee ek smeek. AMEN