Matteus 26:50. Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen”.
Vandag se teksgedeelte bring ons uit by Judas wat Jesus verraai het en hoe Jesus homself dan sonder teëstand aan die situasie oorgee. Om in hierdie wêreld te oorleef moet jy jou plek vol staan. Jy moet baklei vir jou behoud en ons doen dit daagliks op allerhande maniere. Jy moet seker maak dat jy nie ingedoen word nie en naderhand kan alles om jou in ’n bedreiging verander. So ’n lewe bring voortdurend ongelukkigheid en konflik, waarvan die basis vrees is dat ek dit nie gaan maak nie. Daar is nie ’n manier waarop ons die uitkoms van daaglikse gebeure vooruit kan sien of vooruit kan verstaan nie. Dit is in hierdie lig dat die Here ons leer om soos ons teksgedeelte die onbekende wat op ons wag aan die Here, wat soewerein is, oor te gee. Dis nie dat ons op ’n fatalistiese of pessimistiese manier opgee nie, maar eerder oorgee. Gee vandag die onbekende wat vir jou voorlê aan die Here oor … en laat aan die Here oor om te waak oor dit wat moet gebeur. Ervaar hoe dit jou vandag inspireer om die beste te doen wat jy kan en in die lig van onsekerheid met selfvertroue te leef.
Gebed
Laat u lig my omring, O God; laat u liefde my omvou, laat u krag my beskerm, laat u teenwoordigheid my verbly, dit vra ek van U, God van liefde wat oral is waar ek vandag gaan wees.