Handelinge 16:24-25. “Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.”
Paulus en sy vriend Silas het in die groot stad Filippi aangekom. Daar in die stad begin Paulus en Silas toe vir die mense preek en van Jesus vertel, maar die mense wat die stad regeer, het niks daarvan gehou dat hulle daar preek nie. Hulle het nie in Jesus geglo nie en wou daarom nie toelaat dat Paulus en Sila vir die mense van Jesus vertel nie en gooi toe vir Paulus en Silas in die tronk! Eers het hulle vir Paulus en Silas erg geslaan en daarna hulle voete aan ’n houtblok vas geboei sodat hulle nie kon loop nie.
Die nag was was Paulus en Silas nog laat wakker. Hul lywe was so seer van die slaanhoue dat hulle nie kon slaap nie. Toe sê Paulus vir Silas: “Kom ons bid en sing liedjies waarmee ons die Here loof”. Dit sal ons help om van die pyn te vergeet. Hulle het toe hardop begin bid en sing – deur die hele nag. Naderhand was almal in die tronk wakker en het almal na die lofliedere geluister.
Dit het my laat dink aan wat ek doen wanneer dit soms met my swaar gaan? Ek moet eerlik wees en bely dat ek meermale kla as dit moeilik gaan. Ons hou mos nie van swaarkry nie. Ons verkies dat dit liewer die hele tyd met ons goed gaan. Maar die lewe neem ons soms op moeilike paaie en die vraag is dan wat doen ons in sulke tye? Paulus en Silas kon steeds die Here bly loof want hulle het geweet hulle lewe is in God se hande. So is my en jou lewe ook in God se hande. Daarom kan ons Hom ook voortdurend loof, selfs in tye wat dit nie met ons goed gaan nie. Dit sal ons help om ons fokus te verskuif na God wat ons deur die moeilike omstandighede lei.
GEBED
Voel jy soms of die Here te ver is
Twyfel jy soms aan God se bestaan
Jy moet glo dat Hy met jou sal saamgaan
Dat Sy Gees oral met jou sal gaan
Amen