Gedagte vir die dag | Saterdag 19 Junie 2021

Handelinge 2 oor die eerste kerk. Ek lees nie die hele gedeelte nie.

Vers 43: (Dis nou na die uitstorting van die Heilige Gees) “Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul.”  Dan sien ons hoe hulle met mekaar die dinge gedeel het, en by die tempel bymekaar gekom. En dan in vers 47:B gedeelte: “terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.

Ek was so twee weke gelede by die bevestiging van Braam Hanekom se dogter, Marietjie Hanekom in die Groote Kerk in Kaapstad. Voor die diens die oggend  het ek uit Seepunt se rigting gery en gesien hoe die mense op die promenade stap, koffiewinkeltjies besoek en bymekaar kuier.  Ten spyte van Covid-19 was daar letterlik honderde mense.

In die besondere kerkgebou, waar ons tot net 100 persone beperk is, het die beverstiging plaasgevind en dit was ’n besondere geleentheid gewees. Ek kon nie anders, as om te dink die wêreld daar buite gaan eintlik sy normale gang teenoor die groepie wat in die kerk bymekaar kom.  Dan begin ’n mens wonder waarheen is die kerk oppad? Hoe dink die ander mense wat daar buite is, oor die kerk, godsdiens, geloof, en ook oor hierdie kerk se mense?

Vir baie beteken die kerk nie veel nie. Die aanhaling van Abigail von Buren het by my opgekom, “A church is a hospital for sinners, not a museum for Christians.” ’n Kerk is ’n hospitaal vir sondaars, nie ’n museum vir heiliges nie.  Miskien is die kerk, of mense se ervaring dat die kerk dood is, omdat ons ’n museum daarvan gemaak het, in plaas daarvan om dit in ’n hospitaal te omskep.  Ons moet mekaar vergewe.  Ons moet mekaar berispe, maar die wat dan sterk is, moet die wat swak is help, sonder om self te struikel. Ons moet let op mekaar se lewens, maar ons moet nooit die eerste klip optel nie. Ons moet streng wees met mekaar, maar ons moet nooit ons liefde verloor nie.

Die wyse waarop ons die kerk se opdragte uitvoer en sekere sondes vir tug uitsonder, kan wees waarom mense ons as heiliges aansien – eintlik meer ’n museum van skynheiliges.  Kom ek en jy maak ons gemeente, waarlik ’n hospitaal vir mense, waar hulle kan suurstof kry as hulle benoud raak. ’n Plek waar ons sondes vergewe en lewens gered word. Kom ons beklee onsself met Christus en maak liefde telkens die voorskrif.

Gebed:

Here, gee vir ons die vermoë om te kan help. Om beddens skoon te maak, krukke aan te gee, om suurstof of maskers op te sit, om ’n koors te neem en ’n koel lappie op iemand se kop te sit. Maak ons gelwoiges met die kleed van Jesus Christus.