1 Konings 19:3-4 3Elia het baie bang geword en vir sy lewe gevlug. Hy het na Berseba, ’n dorp in Juda, gegaan en sy dienaar daar agtergelaat. 4Hy self het die woestyn ’n dagreis ver binnegegaan. Hy het toe onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy liewer maar moet sterf.
Die profeet Elia, wat so onverskrokke ’n hele leër Baalprofete gekonfronteer het, se moed het hom begewe toe hy ’n doodsdreigement van koningin Isebel ontvang. Hy vergeet skoon hoe God hom by Karmel gehelp het en vlug toe eerder die woestyn in. Daar gaan sit hy onder ’n besembos en wens dat hy eerder dood gaan. “Nou is dit genoeg, Here,” kla hy by God. God versterk toe die moedelose Elia met roosterkoek en water. Hierna kry hy genoeg krag om 40 dae lank te loop tot by Horeb. Daar skuil hy in ’n grot en kla by die Here dat Israel hulle verbond met Hom gebreek het en dat al die profete doodgemaak is, dis net hy wat oorgebly het. Maar God praat met Elia in ’n sagte windfluistering. Hy kry ’n nuwe opdrag om Gasael as die koning van Aram en Jehu as die koning van Israel te gaan salf. Hy moet dan ook vir Elisa salf om hom as profeet op te volg.
Juis wanneer Elia sielsmoedeloos meen dat sy enigste opsie die dood is, ontdek hy dat God nog belangrike take het wat hy moet verrig. As jy dalk op die oomblik moedeloos is en jammer voel vir jouself, luister of jy nie dalk God se stem met jou in die stilte hoor praat nie. Dalk het hy ook vir jou ’n opdrag.
Gebed
Here, vandag voel ek soos Elia onder die besembos-moedeloos en jammer vir myself. Vergewe my asseblief. Ek wil nou stil word sodat ek U stem kan hoor. Amen
(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)