1 Johannes 4:16. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
Hoe ken ons God se liefde? Hoe sou jy dit vandag beskryf? Alhoewel ons elkeen ander woorde sal gebruik kom dit altyd op God se genade neer. Deur die dinge wat in die lewe met ons gebeur ervaar ons dat die Heilige Gees na ons toe deurbreek om ons te leer, te troos en te waarsku. Alhoewel ons God nie met ons oë kan sien nie kry Hy gestalte deur hierdie ervaringe wat altyd ook verband hou met mense om ons. Dis as’t ware asof God dus sigbaar raak in jou naaste. Waar daar deernis is en liefde … daar is God die Heer. So het gelowiges deur die eeue heen bely.
Mag die Here vandag sigbaar word deur die behoefte wat Hy in jou hart lê om vir mense om jou te sorg en om te gee net soos ander vandag na jou toe uitreik.
Gebed
Here ons oë laat ons so dikwels in die steek. Terwyl ons daagliks omring word deur u liefde en genade, gaan by ons verby omdat ons in ons moedeloosheid en frustrasies vas kyk. Dankie vir u goedheid wat ons elke dag konstant omring deur mense wat vir ons goed is en aan ons genade bewys. Gee my ook vandag die moed om ten spyte van die harde werklikhede om my met die eenvoud en krag van hierdie liefde en genade teenoor ander te leef.
AMEN.