Esegiël 37:14
Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat ek die Here is. Ek het dit gesê en ek sal dit doen, sê die Here.
Toe die Here hierdie woorde teenoor die profeet Esegiël gespreek het, het was dit juis gemik op ’n volk wat ’n tragedie beleef het. Hulle is deur die koning van Babilonië uit hulle land weggeneem en het terug verlang na die goeie ou dae toe hulle in Jerusalem tuis was. Hulle kon vashou aan die belofte dat die Here belowe het om hulle weer terug te neem. Die vraag was egter: Wanneer? Die belofte het toe eers vir ’n volgende generasie gerealiseer. Maar in hierdie teks lê ’n tweede belofte verskuil wat ons nie sommer raaksien nie. “Ek sal (vandag) my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe”. Hierdie teks is deel van die baie bekende hoofstuk waar die Here belowe dat hy weer lewe in droë bene kan blaas. Dit gebeur so maklik dat ons die Here se beloftes aan toekomsgebeure koppel wat waarskynlik nie in ons eie leeftyd gaan realiseer nie. En dan kyk ons dié belofte mis dat God vandag lewe aan droë bene kan gee en juis daarom kan ons anders na vandag kyk. Sien die wonder van hoe die Here deur jou en ander lewe bring. Goeie dae lê nie in verre verledes, of die toekoms nie, maar word ook waar in die hede. Hier waar die Here nou besig is om aan ons ’n nuwe toekoms te bied.
Gebed
God van oneindigheid, beweeg my hart met die diep, kalm stroom van u genade. Laat die riviere van u liefde deur my vloei na die wye woestyn van hierdie wêreld wat dit so nodig het. Rek my eng hart met u krag, soos u die lug bo die aarde uitstrek. Stryk uit die rimpels van haat en bedrog wat in my hart leef, sodat ek u liefde en waarheid in volle maat kan smaak.
Amen.