Ek weet nie of jy veel kan onthou van die tyd toe jy 13 jaar oud was nie? Die lewe wat nog voor jou lê, hoërskool wat nuwe moontlikhede vir jou oopmaak. Maar kan jy onthou waaroor jy jouself die meeste bekommer het toe jy 13 jaar oud was? Ek onthou dat my grootste bekommernisse was rakende sport en rapporte wat onder my ouers se oë moes deurloop.
Maria was 13 jaar oud toe die engel na haar toe gekom het. Sy was in ’n beplande verlowing met Josef en het ’n basiese antieke bestaan gevoer. Ek wonder somtyds of ek die moed sou hê om te spring as die Here vir my sou vra om te spring soos Maria gedoen het. Kom ons lees saam:
Lukas 1:26-30. 26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” 29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.
Dit is interessant hoe Lukas fokus plaas op hierdie 13-jarige meisie se vrees te midde van hierdie groot wonderwerk. Ek dink God wou opsetlik na ons toe kom binne die vrees wat Maria beleef het. Dit is amper asof God vir jou vra wat maak jou bang? Want binne in daardie vrees, is Ek ook saam met jou. Binne die goed wat jou bekommerd maak en die stukkende wêreld kom Ek en Ek word in dit gebore. God doen wonders binne die seer en vrees van ons lewens.
Kersfees is einltik ‘n geleentheid waar ons om die tafel kan sit en vir mekaar kan sê wat ons bang maak, want God kom gee weer geboorte aan nuwe geleenthede in ons wêreld.
Ek dink dikwels aan aardverwarming en die klimaat wat verander. Ek raak bang as ek dink wat die toekoms inhou vir ons as mensdom, maar Kersfees gee my weer hoop omdat ek weet dat God nuwe moontlikhede binne hierdie stukkende sitasies kom moontlik maak.
Mag jy eerlik wees oor dit wat jou bang maak hierdie Kersfees, mag jy besef dat God binne hierdie omstandighede aan nuwe moontlikhede geboorte gee.
Gebed:
Here dankie dat ons, ons vrese met U kan deel. Dankie Here, dat ons weet U is by ons en gee nie om waar ons, onsself bevind nie. Mag U vir ons in hierdie Kersfees weer kom bewus maak hoe U nuwe moontlikhede kom lewendig maak binne ons omstandighede.
Amen.