Gedagte vir die dag | Saterdag 17 Oktober 2020

Hebreers 4:16. “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

As kinders het ons mos dikwels almal lekker saam krieket gespeel. Klink die volgende gebeure dalk bekend? Julle speel nog lekker krieket en jy kry ‘n goeie en harde hou in – die bal trek reguit oor die heining en o, aarde – daar hoor jy hoe glas breek en jy besef die krieketbal is deur een van die bure se vensters. Almal hardloop en gaan kruip weg, hulle is bang dat die buuroom kwaai oor die muur gaan loer en met hulle raas, maar jy kan nie hardloop nie, jy is lam van die skrik.  Vensters is duur. Hoe gaan jy dit betaal? Jy besluit vinnig om ’n plan te maak – jy sal maar aanbied om die res van die jaar elke Saterdag die bure se motor te was.

Toe besef jy een van jou maats wat saam gespeel het, Bennie, het nie weggehardloop nie. Hy staan langs jou. Dis die bure se seun! Hy stel jou gerus dat hy met sy pa sal praat en verduidelik wat gebeur het. Hy kom terug en roep jou omdat sy pa met jou wil praat. Hy sê jy hoef nie bang te wees nie, maar jou broek bewe. Jy stap saam en jy kan nie glo wat jy sien nie. Sy pa is toe regtig nie kwaad nie! Bennie het aan hom verduidelik dat julle almal saam gespeel het en dat die harde hou ‘n ongeluk was. Sy pa sê jy hoef nie bekommerd te wees nie. Hy sal met die versekering reël dat die ruit vervang word. Jy hoef nie te betaal daarvoor nie. Baie verlig gaan jy terug, roep jou maats en julle speel verder krieket.

Jesus sit aan die regterhand van die Vader en tree nie net vir ons as voorbidder in nie, maar doen inderdaad versoening vir ons sondes. Hy luister na ons gebede om ontferming en genade en sien toe dat ons deur genade vergewe word. Daarom moet ons sonder ophou en met baie vrymoedigheid bid om ontferming en genade, maak nie saak in watter moeilikheid of versoeking ons is nie. Hierdie is juis ’n uitnodiging deur Jesus om na die troon van die Vader te gaan. Ons hoef nie bang te wees nie.

GEBED

Keer op keer, val ek neer, deur my eie sondigheid.

Telkens weer, wil ek self probeer, opstaan uit my hulpeloosheid.

Hy laat my verstaan, daar is net een Naam,

en elke knie sal voor Hom buig.

Jesus is die Heer.

Dit is wat ek glo.

Ek sing dit weer en weer.

Jesus is die Heer.

Voor Hóm sal ek buig.

Jesus is die Heer.

Hy’s my Heer.