Galasiërs 5:22: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. “
’n Boom sal aan sy vrugte geken word. Dit is waar van vrugtebome, maar dis veral ook waar van die lewens van kinders van God. Daar is unieke eienskappe wat uitstaan in iemand wat ’n pad met die Here loop, en wat aan Jesus Christus verbonde is.
Een van hierdie kenmerke of vrugte, soos in die teksvers omskryf, is vreugde. Hier word dit beskryf as ’n vrug van die Gees, met ander woorde ’n logiese uitvloeisel wat deur die Gees van die Here bewerk word. Ten diepste kom dit weer daarop neer dat God se Heilige Gees, die wonderlike opwekker van blydskap in my lewe is.
Hy is die genereerder van vreugde wat dan uiteindelik ook sigbaar word vir ander mense as deel van die eienskappe of vrugte wat ek dra. In die teksgedeelte sien ons dat hierdie belangrike eienskap van vreugde gepaard gaan met ’n paar ander krities belangrike vrugte in die lewe van ’n gelowige. Dit is ten nouste verbind met liefde, vrede, geduld, vriendelikheid, en goedhartigheid. Dit is amper sinoniem met mekaar. As ek hierdie ander vrugte in my lewe ervaar, dan hou dit ten nouste verband met die vrug van vreugde wat deur die Gees van die Here aan my gegee word.
Laat ons aanhou en volhard om ook in ons droefgeestige tye, die vrugte te dra soos hier omskryf, om ons wêreld ’n beter plek te maak. Mag jy vandag ’n vreugdevolle dag beleef omdat die Heilige gees hierdie Godsgawe in jou ’n werklikheid maak.
Gebed
Here dankie dat u Heilige Gees wat in my werk, ook die een is wat die vreugde diep binne in my genereer.
Amen.