Gedagte vir die dag | Saterdag 17 Desember 2022

 

Dirkie Smit het ’n advent gebed geskyf wat ek graag vir ons wil lees. Mag sy woorde ook ons woorde word en dalk iets verwoord van waar elkeen van ons, onsself bevind in hierdie Advent tyd

Ons Vader wat in die hemel is,

Laat U Naam geheilig word,

U Koninkryk kom,

U wil geskied-

Soos in die hemel, so ook op die aarde.

 

Ons wag in hierdie dae, Here,

Soos altyd, soos elke jaar weer, op U koms-

om dit te onthou, om dit te vier, om ons daaroor te verbly,

om daaroor te gesels en te sing,

en opnuut na die verhale daaroor te luister.

 

Terwyl ons wag in hierdie dae, Here,

maak tog ons oë oop, elke dag,

vir u koms onder ons en tussen ons en by ons, soos altyd –

sodat u wil sal geskied,

onder ons en tussen ons en by ons

en u Naam sal geheilig word,

onder ons en tussen ons en by ons

en u koninkryk sal kom,

onder ons en tussen ons en by ons.

 

Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Vergewe ons ons skulde

soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

En lei ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die bose.

 

Verlos ons van al ons radeloosheid,

van ons vrese en ons magteloosheid,

van ons versuim en van ons versaak,

van al ons onderlinge stryd en ons vele skeuringe.

 

Gee ons, gee ons tog-

Soos altyd weer-

al die geestelike gawes

van u Nabyheid en u Koms

En u Ryk.