Lukas 24:1-6. 1Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was
Lukas die briefskrywer herinner ons dat daar tussen optimisme en hoop ’n hele wêreld lê – al verwar ons dikwels die twee met mekaar. Optimisme het baie met ons geaardhede te doen. Sommige mense sien makliker die ligkant, of die silwer rant van ’n saak in plaas van die donker wolk. Maar te veel optimisme kan ons verblind en ons ligsinnig en oppervlakkig maak. Ons kan draers van goedkoop troos word. Optimisme het weinig min met hoop in gemeen. Hoop is nie iets wat ons in ons het nie, dit kom van buite. Dit lê nie in ons geaardhede nie en dit vloei ook nie uit ons vermoë om anders na sake te kyk nie. Hoop word aan ons gegee. Ons ontvang dit. Dit kom oor ons. Dit word aan ons geskenk. Ons word deur hoop verras, oorbluf en opgewek.
Daar is keerpunte, of oomblikke van finaleit wanneer positiewe denke eenvoudig nie verder help nie. Wanneer ons voor toe deure, klipmure en geslote grafte te staan kom. Dan moet iets gebeur – iets nuuts. Dan het ‘n mens iemand nodig wat die klip voor die graf wegrol. Boodskappers wat ons troos en sê ons hoef nie te vrees nie. Bevreesde vroue wat bevestig dit is waar. Dit kos soms in die gedaante van ’n vreemde tyding, wat nog nooit in die die hart van ’n mens opgekom het nie en wat alle verstand te bowe gaan. ’n Nuwe begin, soos lewe uit die dood.