Gedagte vir die dag | Saterdag 16 September 2023

Die laaste tipe gebed waarby ons stilstaan, is ’n gebed van deelname. ’n Gebed van deelname is ’n gebed wat erken wie God is en waarmee God besig is, amper soos ’n gebed van bemagtiging, maar dit is ’n gebed wat ons uitnooi om medewerkers aan God se koninkryk te wees. Dit is die manier wat Jesus ons leer bid in die Onse Vader:

Matteus 6:9-13

“Ons Vader wat in die hemele is,

laat u Naam geheilig word.

Laat u koninkryk kom.

Laat u wil geskied,

soos in die hemel, so ook op die aarde.

Gee ons vandag ons daaglikse brood.

En vergeef ons ons skulde,

soos ook ons hulle vergeef

wat teenoor ons skuldig staan.

En bring ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

 

Refleksie

Die manier wat Jesus ons leer om te bid, nooi ons uit om deel te neem om die gebed te bewaarheid. Deur die gebed te bid, word ons uitgenooi om God te verteenwoordig in die wêreld: om saam met die Vader, die Hemel aarde toe te bring, te sorg dat elkeen hul daaglikse brood het, mekaar se skuld te vergewe en onsself en ander uit versoeking te hou. Anders as ’n gebed van versoek, waarin die mens passief is en God aktief, is beide God en mens hier aktief saam aan die werk. Dit erken dat die aarde gebroke is, nes ’n klaaglied, maar erken ook dat ons self ’n aandeel het daarin om die Koninkryk op aarde sigbaar te maak. En te midde van dit alles, erken dit die Heiligheid van God en dat die Koninkryk aan God behoort, maar nooi ons uit om self ook Heilig te wees en as kinders van die Koninkryk te leef.

Ek het ’n ruk gelede ’n opmerking op sosiale media raakgeloop wat dit op ’n eenvoudige manier opsom: As jy bid vir berge om versit te word, moet jy bereid wees om langs ’n graaf wakker te word.

Reflekteer vir ’n oomblik waar die Here jou uitnooi om sy Koninkryk sigbaar te maak?

Vandag sluit ons af deur die Onse Vader gebed saam met Jesus te bid

Gebed

“Ons Vader wat in die hemele is,

laat u Naam geheilig word.

Laat u koninkryk kom.

Laat u wil geskied,

soos in die hemel, so ook op die aarde.

Gee ons vandag ons daaglikse brood.

En vergeef ons ons skulde,

soos ook ons hulle vergeef

wat teenoor ons skuldig staan.

En bring ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen