Gedagte vir die dag | Saterdag 15 Januarie 2022

Kan jy glo die eerste maand van 2022 is al in die helfte?

Teks: Johannes 16:5: “En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie? 6Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul. 7Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; 12Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. 13Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.

Gedagte: In die vakansietyd, op Nuwejaarsdag lees ek van die bekende vlootoptogte in Pasadena, Kalifornië in Amerika. Dit staan bekend as die “Tournament of the Roses”.  ’n Pragtige vlot wat deel was van die optog, het op ’n stadium so ’n paar rukke gegee en toe gaan stilstaan. Die voertuig, of groot vragmotor se diesel was op. Die hele optog het tot stilstand gekom, omdat die voertuig die parade geblokkeer het, maar iemand het toe wel later met ’n kannetjie diesel opgedaag.

Die ironie in die storie, is egter dat die vlot deur ’n oliemaatskappy, “Standard Oil”, geborg is. Ondanks hul reuse olie voorraad,het hulle vlot weens swak kommunikasie en beplanning op die groot geleentheid sonder diesel gaan staan. Ons as gelowige is toegerus met, ’n ander soort diesel of petrol.  Ons is toegerus met krag van bo!  As ons nie innig verbonde bly aan hierdie bron van krag nie, sal ons hierdie jaar ook tot stilstand ruk – nie in staat om ’n tree vorentoe te gee nie en so sal ons dan ook die verkeer blok.  In die gedeelte wat ons gelees het, kom Jesus en sê Hy sal hulle nie as wese agterlaat nie.  Sy Heilige Gees sal onder julle kom woon en sy Gees sal julle in die waarheid lei.  Ons mag nooit sê dat die Here nie by ons is nie, of dat Hy nie die pad saam met ons loop nie.  In die doopformelier is dit altyd so mooi as ons van die Vader en die Seun, maar ook in die besonder van die Heilige Gees praat wat vir elkeen wat aan God behoort gegee word. God het dit so mooi gesê: “Hy sal ons in die waarheid lei, en ons troos. Daar is so ’n mooi gebed wat beskryf hoe God bo, onder en langs ons is en ook die pad vooruit saam met ons loop. Ons het die diesel, die petrol van God se gees, wat vir ons gegee word. Hy is in hierdie dag by ons en Hy sal dié jaar elke tree saam met jou loop.

Gebed:

Here, dankie vir u teenwoordigheid, die bonatuurlike teenwoordigheid van u Gees, in ons lewens, en in ons uitgebreide familie.  Ons verstaan daarvan so min, maar dankie dat ons hierdie eenvoudige waarheid aan onsself kan toeëien.

Amen.