Gedagte vir die dag | Saterdag 13 Mei 2023

Vandag is Saterdag 13 Mei en welkom by vandag se oordenking. Vandag sluit ons af waar ons hierdie week saam gereflekteer het oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.

Vandag sluit ons af om mekaar te herinner dat ons een God aanbid, ons Skepper.  Dit is nie ’n “afwesige” God-Skepper nie; dit is ’n liefdevolle, versorgende God – vandaar dat ons God, “Ons Vader” noem.  Maar hoe het ’n mens ’n verhouding met iemand – al noem jy Hom “Vader” – wat jy nooit kan sien nie?  Dit is presies wat Filippus ook wou weet in Johannes 14 – daarom vra hy in vers 8: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg”.  Jesus se antwoord is betekenisvol: “Wie My sien, sien die Vader.” Daarom word Jesus die “Seun van die Vader” genoem:  Hy is m.a.w. die “ewebeeld” van die Vader.  Sien jy Jesus se optrede, dan weet jy hoe God, die Vader, is. Maar nou sit óns met ’n probleem: hoe kan óns (ek en jy) wat 2000 later leef, vir Jesus sien, as Jesus net vir 33 jaar lank die aarde bewoon het?  Daarom sê Jesus:

“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees . . .”

In die Drievuldigheid van God is niks eerste of laaste nie, niks meeste of minste nie, maar al drie persone is onderling volkome aan mekaar gelyk. Die Een kan nie sonder die Ander nie. Om be[GEES]terd te leef is om in ontmoeting met hierdie lewende God te wees en te leef. Mag ons in hierdie Pinkstertyd wat voorlê opnuut ontdek wat dit beteken om be[GEES]terd te leef terwyl ons leer om te dans saam met die:

Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Gebed 

Here, dankie dat ek U kan leer ken op hierdie Drievuldige wyse. Leer my U wil Heer en mag ons aanhou dans, speel, lag en rus in U groot genade.

Amen.