Gedagte vir die dag | Saterdag 13 Maart 2021

Romeine 9:31: “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”  Vers 35: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?”

Fred Astaire was ongetwyfeld een van die top sangers, klopdansers en akteurs, seker nie van alle tye nie, maar beslis van sy tyd.  Deur Top Hat, Swing Time en Holiday Inn en ander treffers het hy sy pad tot in die harte van miljoene mense gesing, geneurie, en gedans.  Maar in 1932, toe Fred Astaire met sy loopbaan begin het, het ’n Hollywoodse talent keurder na sy oudisie vir hom gesê: “Jy kan nie toneel speel nie, jy kan nie sing nie, maar ja – jy kan so ’n bietjie dans.”

Soms loop dinge nie vir ’n mens reg nie. Soms gaan daar ’n deur toe en raak ’n mens pynlik bewus van jou tekortkominge. Maar in die gewone lewe, asook die Christelike lewe, wanneer daar mislukkings, of teleurstellings oor ons paaie kom, ontvang ons die genade gawe van God om weer anders of nuut na ’n saak te kyk. Met verloop van tyd, na ons leer om aan te pas, kan hierdie teleurstellings as voetnotas van ons lewens vergete raak. God laat toe dat hierdie teleurstellings, of verwarring ons lewenspaaie kruis terwyl ons onderweg na ons eindbestemming is.

Ek noem ’n paar voorbeelde: Phillip Brooks was ’n kragtige prediker, maar as sy aansoek as skoolhoof geslaag het, sou hy nooit op die kansel gestaan het nie. As Frederick Robertson by die Britse-leër aanvaar is , sou hy nooit die preke geskryf het wat hom baie bekendheid verwerf het en waardeur hy seën aan soveel mense geseën gebied het nie.

As Nathaniel Hawthorne by die duane-kantoor bly werk het, sou hy nooit daardie wonderlike studies oor diep gesprekke van menslike droefheid en liefde geskryf het nie. Teleurstellings, of mislukkings en toe deure, kom op elkeen van ons se lewenspad voor. Ons moet weet dat die Here die pad saam met ons loop, en dat sy koers soms anders is. Ons kan saam met Romeine 8 sê: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor hierdie dinge, God is vir ons. Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie, want Hy loop die pad saam met ons.

Gebed

Here dankie dat U die pad met ons loop al is dit soms onbekende weë. Maar gee dat wanneer die pad draaie met ons loop, ons ook die genade sal ontvang om weer ’n nuwe koers en visie te vind. Help ons ook as dinge nie uitwerk nie, en situasies of mense ons teleurstel om die genade en perspektief te kry om te weet dat dit nie die einde is nie, maar dat ons weet dat U by ons is en dat ons pad net ’n ander koers moet in neem. Help ons om hierdie koers weer te vind.

Amen.