Gedagte vir die dag | Saterdag 13 Februarie 2021

Matteus 25: 11-12: “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

Matteus 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy/sy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”

Dis die gedeelte van die verstandige en onverstandige meisies.

Herman Charles Bosman skryf  in een van sy lekker stories,  dat toe Andries Wessels op sy sterfbed gelê het, hy aanhou vertel het van die onbesproke en wonderlike lewe wat hy tot aan die einde van sy lewenswandel, gelei het.   Daarom kon hy  in vrede sy laste neerlê en sterwe met hemelwesens en klanke van onsigbare, wonderlike engelkore om hom.  Bosman skryf dat net  voordat Andries gesterf het, het hy gesê dat ook die engele nou vir hom sigbaar geword het.  Hy het hulle as engele van gemiddelte grote beskryf,  so duidelik het hy hulle gesien.  Hy sê verder dat hulle gesplete hoewe gehad het, en vurke gedra het.

Bosman het in die verhaal  die spot gedryf met mense wat so in hulle skik met hulle eie wonderlike lewensvroomheid en goeie lewens geraak het.  Mense wat as’t ware klaar vir hulleself plek in die hemel bespreek het.  Dan die skok, as hulle nie deur die engele nie, maar deur die duiwels tegemoet gekom word.  Lank voor Bosman, het Jesus ook gewaarsku teen dié moontlike “misverstand.”  Dink na oor die gelykenis van die vyf onverstandige meisies wat aan die deur van die bruidegom geklop het en geroep het: “Meneer meneer, maak vir ons oop!” En die bruidegom se antwoord: “Ek ken julle nie, ek weet nie wie julle is nie.”

Dan ook in Matteus 7 waar Jesus sê: “Nie elkeen wat vir my sê Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy/sy wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is.”  Aan die een kant word ons deur die geloof en genade van Jesus Christus gered, maar aan die ander kant is die Bybel ook baie duidelik om te sê dat dit ook gaan oor hoe ons moet lewe.  Dit gaan oor die vorm wat my  dade, elke dag aanneem en of ek so lewe dat hierdie geloof in my lewe gestalte kry.

Ek het die afgelope week weer aan Andries Wessels gedink toe ek hoor en lees hoe sommige mense aanspraak maak op die feit dat God aan hulle kant is, en dan vreemde dinge doen.  Hulle verklaar Jesus as hulle leier, maar hulle dade spreek die teendeel daarvan.  Eintlik dien dit net ’n politieke doel in terme van hul eie kulturele situasie of omstandighede.

Natuurlik kan elkeen van ons na God om hulp roep en vra dat die Here ons in ’n bepaalde situasie moet help.  Maar om God net vir jouself en jou saak op te eis, maak van Hom ’n stamgod.  En wie dit doen, kan homself eendag in Andries Wessels se geselskap bevind.  Kom ons bid eerder vir meer liefde in ons harte, vir meer omgee, meer uitreik, meer oop hande teenoor ander mense en om in liefde te leef, veral as ons in Jesus se voetspore wil volg.

Elkeen van ons se konteks verskil van mekaar.  Dit lyk ook anders waar ons nou met inperkings moet saamleef.  Ons het darem nog altyd selfone om met mekaar te kommunikeer en nuwe maniere  ontwikkel om in Jesus se voetspore te volg.

Wanneer ons stil word, laat ons die Here toe om  dit vir ons duidelik te maak wat ons spesifiek kan doen, om die wil van God ons Vader wat in die hemel is, uit te leef.  Die besef dat alles van God se genade afhang, kan ons juis in die geselskap van engele bring, omdat ons weet hoe sy genade ons lewens verander.

Gebed

Here dankie vir U gestalte van in ons lewens.  Dankie dat  ons bevoorreg is om die Lydingstyd saam met u in te gaan.  Gee dat dit wat U vir ons gedoen het in ons lewens weerspieël sal word.  Maak ons bewus van ons eie selfgerigtheid, ons eie gemak en ons eie ek.  Help ons om met toewyding, in U voetspore te volg.

Amen.