Teksgedeelte Johannes 1:1. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Die Christelike geloof is vol misterie. Misterie beteken nie bloot iets geheimsinnigs nie, dit het ook te make met spraakloosheid. Die groot oomblikke in ons geloofsjaar soos die krip, die kruis, die graf, Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Gees. Dit is alles vol misterie omdat dit met onverklaarbaarheid te make het; die onverklaarbaarheid van God se besig wees met die mens; die God van die heelal se tuiskoms in die vlees.
Lisel Joubert herinner ons dat misterie beteken ons hoef nie alles te kan verklaar om te glo nie. Ek dink ook nie die debatte help ons noodwendig nie aangesien dit impliseer dat daar ’n wenner en verloorder moet wees. Hoe praat ’n mens oor eenmalige gebeure en hoe vertaal ’n mens wat God doen?
Miskien deur te begin verstaan en te verwoord kan ons ook bid vir insig. Ons behou die wete dat die misterie altyd groter is en daarom hoef ons nie ons verstaan in klip te giet nie. John de Gruchy stel dit goed wanneer hy verduidelik: To lose respect for mystery is to lose respect for life, for the creation, for the other, for God.