Matteus 27:45:” Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Aangrypende woorde wat mense – gelowiges en ongelowiges – oor eeue heen aangeraak het. Dit is sy vierde kruiswoord waaraan ons vandag nadink. Daar was algehele duisternis en vir drie ure van duisternis word die intensiteit van die kruisiging tot ’n hoogtepunt gevoer. Dan, in absolute pyn en Godsverlatenheid, roep die Seun van God in nood uit na Sy Vader!.
Die eerste drie kruiswoorde het gegaan oor mense rondom Hom, oor hul nood. Hier roep Hy nou vanuit sy eie nood na sy Vader, terwyl Hy ervaar dat die sonde van die wêreld op Hom afgelaai word en Hy die toorn van God op ’n emosionele wyse beleef.
Dit geld vir die hele wêreld, maar ook vir my en jou in ons sondeskuld en gebrokenheid.
Gesang 133:2 in die Liedboek beskryf dit so mooi!
“Ja, ek kos Hom die slae, die smarte en die hoon, Hy dra na Godsbehae, die kleed, die doringkroon. Vir my wonde, vir my moes Hy daar staan. Vir al my sonde, die bitter kruisweg gaan”.
NP van Wyk Louw het ook ’n aangrypende gedig geskryf wat by ons almal bekend is, maar ek wil graag dit vandag weer aanhaal:
Ecce Homo (NP van Wyk Louw)
“Omdat Hy my verlaat het, laat Hy my nooit alleen: ek hoor ál nagte ’n asem hyg en iets soos vroue wat sag ween.
Dan staan dit in die skemer daar: die Bleke aan die hoë kruis, en vul met die wete van Sy smart my hele huis.
Ek ken Sy dors, ek ken Sy angs (God het hom ook van my gewend); ek kan Sy wonde met name noem, en elke spyker is bekend:
Die Liefde skeur in elke hand, en deur Sy voete brand die Hoon: die Waan van Godheid is gedruk ook in Sy hoof as doringkroon.
Sy oë staar van die kruis en berg die heilige, ver-blou aarde deur totdat die dood hul vul; ek hoor uiteindelik die voorhang skeur.
Dan in die donker net die gloed van dowwe woord se helder spot in enkele letters bo Sy hoof: Dit is die God en Seun van God.”
Dankie Here Jesus Christus, dat U deur hierdie helse ervaring en duisternis ook my skuld op U geneem het.
Amen.