Gedagte vir die dag | Saterdag 12 Junie 2021

Jeremia 18:6.Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel.

Ons lees in Jeremia 18, dat die Here vir Jeremia die boodskap gee om na die werkplek van die pottebakker toe te gaan.  Die Here wou daar met Jeremia praat, Jeremia was gehoorsaam aan die Here, en hy het na die werkplek van die pottebakker toe gegaan. Daar aangekom, kry hy die pottebakker waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk,  maar die pot waarmee hy besig was, was nie ’n sukses nie.  Hy neem toe weer die klei, druk dit inmekaar en begin van voor af om weer om ’n pot te vorm soos hy dit wou hê.

Toe begin die Here om met Jeremia te praat: “O Israel, kan Ek nie met julle maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in My Hande.”

Klei het nie planne van sy eie nie, geen ambisie vir diens en geen onwilligheid om sy gegewe taak uit te voer nie.  Dit is net klei.  Vormbaar, buigsaam, heeltemal ondergeskik aan die wil van sy meester.

So is ons dan ook klei in God se hande.  Hy kan ons vorm tot watter soort werktuig Hy ons ookal nodig het.  Is ek en jy bereid dat die Here ons kan vorm tot ’n bruikbare kruis?   Dit is nie altyd ’n maklike vormproses nie, maar die eindproduk verheerlik God.  Gee jouself vandag oor aan God sodat Hy jou soos ’n stuk klei op die pottebakker se wiel kan vorm.

GEBED

“Doen slegs U wil Heer – U wil met my, U, Pottebakker, met my, die klei.  Vorm my en maak my, net soos U wil.  Op U bly wag ek, nederig stil.

Amen