Welkom by Saterdag, 12 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.
Ons is besig om as mede-pelgrims saam te reis. Die verskeie Psalms vanaf Psalm 120 – 134 staan bekend as Pelgrimsliedere. Ons weet dat gelowiges gereeld na Jesrusalem gereis het na die tempel, maar soos met enige reis het dit baie onveilig geword langs die pad en om iets van die reis te simboliseer is labirinte gemaak in kerke of buite in die gras ens. Hulle eindbestemming is nie ’n tempel, gebou of plek nie maar eerder ‘n oomblik op hulle lewensreis waar hulle die Here ontmoet (’n innerlike reis na binne). Elkeen van ons beleef hierdie ontmoeting op verskillende maniere en daarom is daar geen resep, metode of proses nie. Dit is ’n geleentheid vir ons om te oordink, te reflekteer, stil te wees en met die Here te praat en om leeg te raak van onsself en ons eie ego’s. En baie mense doen dit terwyl hulle stap. Vandag wandel ons saam in Psalm 126:
Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos mense wat droom. Daarna is ons monde met gelag gevul, ons tonge met jubelkrete. Toe is onder die nasies gesê: “Die Here het iets groots gedoen aan hierdie mense.” Die Here het iets groots aan ons gedoen. Ons was verheug. Verander weer ons lot, Here, soos stroombeddings in die Negev. Die wat met trane saai, sal met jubelkrete maai. Die draer van die saadsak wat loop en huil, sal beslis terugkom met jubelkrete terwyl hy sy gerwe dra.
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Here, vanoggend asem ons liefde in en blaas dankbaarheid uit!
Amen