Markus 16:1. 1Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.
Refleksie
Hierdie laaste refleksie vir die week oor verskillende vroue in die Bybel eindig by die drie vrouens wat vir Jesus gevolg het. As ons fyn oplet in die evangelies, dan word dit duidelik dat vroue ’n integrale rol gespeel het in Jesus se bediening op aarde. Hulle het vir Jesus ondersteun en Jesus het hulle deel gemaak van die hart van die Koninkryk van God wat Hy verkondig het. Terwyl ’n klomp van sy dissipels weggekruip het, of net weg gekyk het met Jesus se kruisdood, het die vrouens op ’n afstand bly kyk.
Op die Sondag na Jesus se dood, terwyl al die dissipels bang en verward en hopeloos was, het die drie vroue na Jesus se graf gegaan. Terwyl die dissipels gewonder het hoe hulle eie lewens gaan lyk na Jesus se dood, was die vroue se gedagtes by Jesus – by die versorging van sy liggaam. Selfs toe dit voel of alle hoop verlore is, het hulle vasgehou aan hulle liefde vir Jesus. Dit is dan ook natuurlik hulle wat by ’n leë graf aankom en die eerste getuies is van die opstanding van Jesus.
Hierdie verhaal herinner my aan twee dinge. Ons “daar-wees” in die wêreld is belangrik. Hoewel die vroue dikwels nie soos Petrus of Johannes op die voorgrond van Jesus se verhaal was nie, was hulle daar. Hulle was die stille getuies van alles wat gebeur het. Partykeer is ons daar-wees genoeg, partykeer hoef ons niks te sê of te doen nie, maar moet ons net teenwoordig wees.
Tweedens, die vroue het lief gebly vir Jesus, selfs in die mees hopelose tyd van die kruis. Moeder Theresa het gesê: “Love, in order to be genuine, does not have to be extraordinary, what we need is to love without getting tired.” Die vroue het nie moeg geword om vir Jesus lief te wees nie.
Mag ons ook leer om lief te hê, sonder om moeg te word, veral in die tye waartydens dit moeilik word.
Gebed
Here, help ons vandag om daar te wees vir U en vir ander. Nie om iets asemrowend te doen nie, maar om eenvoudig daar te wees. Help ons om lief te hê. Nie net wanneer ons so voel nie, maar laat ons liefhê sonder om moeg te word, die tipe liefde wat ons sien by die drie vroue een vroegoggend by die graf van Jesus Christus.
Amen