Gedagte vir die dag | Saterdag 10 Desember 2022

2 Korintiërs 4:6. God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.

Refleksie

Paulus tref ’n interessante vergelyking tussen lig wat skyn uit die duisternis en lig wat in ons harte skyn. Dit ’n parallelisme wat ons harte met duisternis vergelyk. Dit nooi ons uit om te reflekteer oor die duisternis van ons harte, die gebrokenheid van die mensdom, maar ook oor die verhouding tussen lig en duisternis. Soos ons vroeër in Genesis 1 gehoor het, is duisternis die geboorteplek van die lig en die res van die skepping. Dit is juis in die middel van die duisternis waar die heerlikheid van God se lig die helderste skyn.

Dit is juis in die duisternis van ons harte, wat God se lig duidelik word. God gebruik gewone, gebroke mense soos ek en jy om sy lig bekend te maak. In hierdie teksgedeelte is die lig en duisternis nie vyande nie, maar vul die duisternis die lig aan, sodat nog meer sigbaar kan word.

Daarom skryf Paulus later in vers 10: “Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus, sigbaar kan word in ons liggaam.”

Dit is juis in die donkerte van die kruis, wat die lig van die opstanding en lewe in Christus die helderste skyn. Mag God ook in die duisternis van ons harte, sy lig laat skyn

Gebed

Here, dankie dat U my, ’n gewone, gebroke, mens, gebruik as deel van u koninkryk. U het u lig in my donker hart laat skyn om my te verlig met die kennis en heerlikheid van God. Mag die lig wat U in my laat skyn, sigbaar word in die wêreld.

Amen