Gedagte vir die dag | Saterdag 10 April 2021

Markus 16:1.  Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem. 2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” 4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ‘n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik. 6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” 8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Die pandemie raak nou baie lank en uitgerek en jy voel dalk of dit nooit gaan einde kry nie. Die afgelope jaar het almal van ons iets verloor, dalk was dit ’n persoon, ’n geleentheid, ’n verhouding of ’n werk. Ons verlang nog terug na sekere oomblikke en gebeure van die verlede en soms verhoed hierdie geleenthede ons om vorentoe te beweeg. Dit is interessant hoe die vroue by die graf deur die engel gelei word om nie vas te hou aan “waar Jesus gelê” het nie. Die engel neem hulle na die plek toe waar Jesus was om hulle te lei na waar Jesus voortaan gaan wees.

Die oopgestane Jesus is waarheen die engel die vroue wil lei.  Ons besef dikwels nie hoe ons begeertes van die verlede ons soms terug hou nie. Dit beteken egter nie dat ons nie moet ophou werk deur die seer van die verlede nie.  Amy Morin, ’n sielkundige skryf in haar boek “13 things mentally strong people don’t do” dat om deur seer van die verlede te werk is gesond, maar om jouself jammer te kry en in die verlede te bly sit is ongesond.”  Al hoe ons na opstanding beweeg is deur die gebeure van die verlede wat ons laat sink, te laat gaan.

Gebed:

Here mag ons in hierdie onsekere konteks opstaan omdat U reeds opgestaan het. Mag ons deur die pyn en seer van die verlede werk om deur die leë graf te kom, maar gee dat ons nooit vashaak in die seer van die verlede nie. Here dankie dat U ons help om vorentoe te beweeg in tye van onsekerheid.

God help ons om die sinkers van die lewe te laat gaan om nuwe lewe te ontdek.