Gedagte vir die dag | Saterdag 1 Oktober

 

Matteus 19:25-26.  Toe hulle dit hoor, was die dissipels totaal verbysterd. “As dit so is, wie kan dan hoegenaamd verlos word?” het hulle gevra. 26Daarop het Jesus hulle aandagtig aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is alles moontlik!”

Daar is ’n bekende toneel uit Alice & Wonderland wat iets van hierdie teksgedeelte verwoord:

Alice laughed. “There’s no use trying,’ she said. ‘One can’t believe impossible things.’
I daresay you haven’t had much practice,’ said the Queen. ‘When I was your age, I always did it for half-an-hour a day. Why, sometimes I’ve believed as many as six impossible things before breakfast.”

Ons geloof is geloof in die onmoontlike. Dat, in God, die onmoontlike moontlik kan word. Die gesprek waaroor die dissipels verbysterd is, is oor hoe moeilik dit is vir die ryk jong man om in die koninkryk van God te kom, met die ryk jong man wat nie van sy besittings kon afstand doen en vir Jesus volg nie. Die verhaal vra van ons om ook bewus te word van die dinge waaraan ons vashou, wat vir ons sekuriteit en mag gee, wat ons soms terughou om ten volle vir Jesus te volg. Of selfs die dinge wat ons in ons hart dra waarvan ons nie kan laat gaan nie. Die mense wat ons nie kan of wil vergewe nie, die skuldgevoel wat ons nie wil agter los nie. Dit voel amper onmoontlik om hierdie dinge wat ons gevange hou, te los.

Maar wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik, herinner Jesus ons. Daarom is dit altyd ’n wonderwerk wanneer iemand vergewe of vergewe word, wanneer iemand besluit om vir Jesus te volg, wanneer iemand met onvoorwaardelike liefde teenoor iemand anders optree.

Mag ons nie ophou om te glo in die onmoontlike nie. Mag ons vertrou op die God wat die onmoontlike, moontlik maak.

Gebed

Here, dit lyk vir ons soms asof die wêreld hopeloos is, asof dit onmoontlik is vir mense om te verander. Soms voel ek dit is onmoontlik vir my om te verander. Skenk aan ons die geloof wat glo in die onmoontlike en in die God wat die onmoontlike, moontlik maak.

Amen