Romeine 8:14. “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”
John Taylor noem die Heilige Gees, die “Go-between-God” in sy boek met dieselfde naam. Die Heilige Gees is die een wat tussen ons en Jesus staan, die een wat in ons bly sodat ons aan Jesus verbind kan bly. John noem die Gees die koppelteken in die U-ek verhouding – die een wat sy hand op my en op God lê om ons aan mekaar te verbind.
Maar, omdat Hy tussen ons staan en sy doel eintlik is om ons by Jesus en by God uit te bring, is Hy natuurlik ook die onsigbare God. Die verborge God. ’n Mens raak dus van die Gees bewus wanneer jy stil word en aan die verborge dinge dink, dinge waarvoor jy waardering het.
Wanneer die Heilige Gees by ons ingetrek het en wanneer Christus deur sy Gees in ons woon, dan gaan dit nie onopgemerk by ons verby nie. Deur die Gees is God by ons teenwoordig, die hoogheilige God by ons klein mensies. Dit is ‘n geweldige grootse gedagte en ons moet dit op ons laat inwerk. God woon deur sy Gees in ons hart.
Nou is die Heilige Gees wat in ons woon ’n werksame Gees. Hy is altyd besig. Hy werk aan ons. Hy wil ons omskep en omvorm sodat ons steeds meer soos Christus gaan lyk, sy beeld meer en meer gaan vertoon en sodat ander mense Jesus in ons kan sien. Die Gees bring ons steeds meer onder sy invloed, en ons ondervind dit ook in ons daaglikse lewe.
Soos wat ’n dirigent ’n orkes lei, so is die Heilige Gees daar om ons in elke noot of tree in ons lewe te lei mits ons Hom toelaat om dit te doen en ons na Hom kyk, of luister. Indien ons sy leiding volg kan ons lewe die mooiste musiek maak, maar wanneer ons kies om ons eie ritme, of note te speel loop dit uit op iets wat glad nie mooi is nie.
GEBED
Heilige Gees, vul my nou. Ek wil totaal op U leiding vertrou. Dan alleen kan ek vrugte dra, dan alleen kan ek doen wat U vra.
Amen