Toe ons op universiteit was het ek eenmaal op pad na die teologie fakulteit toe ’n man met ’n bord en ’n megafoon gesien, wat skree: “ Die tyd is nou, draai om of jy gaan hel toe”. As studente het ons graag grappe gemaak oor die sogenaamde “turn or burn” teologie. Dié tipe teologie wat vir ’n mens vertel dat jy in die hel gaan brand as jy nie omdraai en jou lewe verander nie.
Dit is vir my interessant hoe ons graag die oordeel van God oor ander mense wil uitspreek. Dit is dalk juis omdat ons nie genoeg terugstaan en eerlik is oor wat in ons eie lewens aan gaan nie. Die rede waarom dit my nog altyd gepla het, is omdat Jesus ’n gelykenis gebruik het wat dit duidelik maak dat sy genade groter is as ons denke.
Matteus 18: 10-14
10“Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is.
12“Hoe dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege en negentig daar in die bergveld laat staan en die een wat weg is, gaan soek nie? 13En as hy hom kry, verseker Ek julle, is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat nie weggeraak het nie. 14So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.”
Hierdie gelykenis vra my om terug te staan en vir myself te vra of ek God se genade so kan sien in ander. Kan ek aanvaar dat God die verlore skape wil huis toe bring, of voel ek dit is my plig om hulle te oordeel.
Mag God se genade groot wees in jou verhaal, soveel so dat ander dit mag beleef.
Gebed:
Here, dankie dat U ‘n genadige God is, dankie dat ons kan besef gee nie om wie ons is of waar ons is in ons lewens nie U kom haal ons soos ‘n verlore skaap. Here ek bid dat ons U genade sal uitleef sodat ander dit kan sien in ons verhaal. Amen