Gedagte vir die dag | Maandag 8 Mei 2023

Vandag is Maandag 8 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdriftig en besielend wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.

Daar is min mense vir wie die opstanding só ‘n groot verskil gemaak het, soos vir Paulus.  Jy kan ‘n toegewyde gelowige wees – soos Saulus inderdaad was. Hy wou juis die geloof waarvan Jesus deel was beskerm.  Jy kan selfs fanaties in jou toewyding wees – soos Saulus was. Saulus het soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Maar, toe hy die opgestane Jesus op die Damaskuspad ontmoet, het alles verander.  Saulus ontdek dat hy nie die Jesusvolgelinge vervolg nie, maar die lewende Jesus sélf.

Daardie ontmoeting het sy hele lewe verander.

Vanuit daardie ontmoeting skryf Paulus vir die gemeente in Korinte in 1 Kor. 15:17: “As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos…”.   Vir hom staan die kruis tussen sy “Saulus-dae” en sy “Paulus-lewe”.  Dis die kruis tussen sy ou self en sy nuwe self.  Dit is die kruis wat ook tussen ons ou self en ons nuwe self staan.  Maar, as alles net by die dood van die kruisiging gestop het, hoe kon daar nuwe lewe moontlik wees?  Of vir jou en my?  Máár, dit is danksy die opstanding dat Paulus dan verder gaan in Gal. 2:19 deur te sê “en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe”.

Jesus leef, en Jesus se Gees leef in ons.

Hoe leef mens be[GEES]terd? Soos Jesus, as Hy in Joh. 6:38 sê dat Hy nie van die hemel af gekom het om Sy wil te doen nie, maar die wil van Hom (die Vader) wat Hom gestuur het. (Joh 6:38).

GEBED:  Here, dankie vir die kruis en die nuwe lewe! Mag ons be[Gees]terd U wil doen. Amen.