Jesaja 53:7. “Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.”
Dit is merkwaardig as ‘n mens na hierdie gedeelte in Jesaja 53 gaan kyk, hoe sterk en gekleur die taal is waarin die rol van die Kneg beskryf word. Daar word gesê dat Hy ons lyding en siektes gedra het (4), dat Hy as gevolg van ons oortredings deurboor is. Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (5). Hy is gestraf oor die sonde van die volk (8) en hy het sy lewe as ‘n skuldoffer gegee (10).
As die volk in ballingskap deur hierdie gesig van die lydende Kneg vertroos is, hoeveel te meer nie ons as Nuwe-Testamentiese kerk nie. As gelowiges kan ons op hierdie gebeure terugkyk en in die Kneg die gestalte van die Kind in die krip, en dié van die gekruisigde Jesus herken.
Dit was God se meesterplan vir ons verlossing. Dat Jesus die skuld vir ons sonde moes dra. Dat Hy in ons plek moes ly. Al hierdie swaarkry moes Hy deurgaan vanweë ons oortredinge, rebellie, opstand en sonde. Ons oortredinge lei tot sy straf en dood. In die Kneg se lyding was God aan die werk, was Hy besig met die uitvoering van sy plan. Die Here Jesus moes deur eindelose leed gaan om vir ons vryspraak te bewerk.
GEBED
Verlate van u vriende, verlate Worstelaar; verlate van die Vader. verlate Middelaar!
Net pyn en dors en duister is by U in u nood; ontdaan van aardse luister, oorwin U tog die dood!
Só moes die Christus ly! Vervloek, om te ontsondig, verlate, om te vind; moes sterf om te verkondig: Deur My word jy Gods kind.
AMEN