Gedagte vir die dag | Maandag 7 Junie 2021

Spreuke 17:17: “Op ’n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is.”

Daar is seker al duisende stories oor goeie vriende vertel. As ek oor my eie lewe nadink, het ek talle sulke stories oor goeie vriende wat elke dag my pad gekruis het, of ander wat ’n mens net een keer ’n jaar, of minder sien. ’n Mens besef wat is die waarde van vriendskap, en jy kan ook baie stories vertel oor jou en jou vriende se belewenisse.

Vandag handel ons storie oor vriendskap. Daar word vertel: “Aan die einde van die vyftiende eeu, het twee jong leerjongens, Hans en Albrech, in die houtsnee bedryf in Frankryk gestudeer.  Albei wou ook in die skilderkuns gaan studeer, maar nie een van die twee het geld gehad nie. Hulle besluit toe op die volgende oplossing: Een van hulle sal eers gaan werk en genoeg geld bymekaar maak, sodat die ander een van die inkomste kan studeer. Wanneer die eerste een dan klaar gestudeer is en ryk en beroemd geraak het, sal hy weer geld aan die ander een voorsien om te gaan studeer. Die vraag was natuurlik net: “Wie sou eerste gaan studeer?” Uiteindelik het hulle ’n muntstuk opgeskiet om te besluit,  en Albrecht het gewen. Terwyl Albrecht in Venesië gaan studeer het, het Hans as ’n grofsmit gaan werk. Elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, het hy ’n groot deel daarvan vir sy vriend se studies aangestuur.

Die maande het jare geword, en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseer. Hy het na Duitsland, sy geboorteland, teruggekeer en as meesterskilder begin naam maak. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans, finansieël te help met sy studies.

Die twee het ’n blye-wederontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe het hy eers die opoffering van sy vriend waarlik begryp. Die baie jare van brute handewerk as grofsmit, het Hans se sensitiewe hande gekneus en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof dat hy nooit weer die fyn kwas van ’n skilder sou kon hanteer nie.  As nederige dankbetoon vir sy vriend se jarelange opofferinge sodat hy ’n beroemde skilder kon word, het Albrecht Dùrer ’n portret van sy vriend Hans se beskadigde hande geskilder.  Die hande wat so hard en getrou gewerk het, sodat Dùrer sy talent kon ontwikkel.

Die dag toe hy aan sy vriend die skildery met die biddende hande oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering eendag aan miljoene mense bekend sou raak, as die simbool vir gebed nie.

“Hoe onvergelyklik goed, voel dit om die bekende  hand van ’n getroue vriend in jou eie te neem!” – Henry Longfellow

Gebed

Here, so baie dankie dat vriende oor ons pad kom, om ons lewe sinvol, ryk en mooi te maak. Gee dat ek elke dag my vriende en vriendskappe sal koester. Amen.