Jakobus 5:13. As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.
Ons geloof in God is nie beperk tot ’n gedeelte van die lewe wat ons godsdiens noem nie. Dit is nou verweef met die alledaagse van die lewe. Daarom moedig ons teks ons aan om spontaan in die Here se teenwoordigheid te leef. As ons swaarkry moet ons dit spontaan vir die Here kan sê en as ons bly is, moet ons dit kan uit jubel. Laat hierdie besef weer vanoggend opnuut tot jou deurdring. Laat jouself toe om, soos in die Bybelboek Klaagliedere, openlik vandag jou hartseer en kommer aan die Here te gee en soos in die Psalms jou vreugde en dankbaarheid te verwoord. Ons bid vanoggend die baie bekende ou lied in Psalm 146.
Gebed
Prys die Heer met blye galme, o my siel daar’s ryke stof! Ek sal solank ek leef my psalme vrolik toewy aan sy lof. En hom wat sy guns my bied, altyd grootmaak in my lied.