Matteus 9:35. Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van dié koninkryk verkondig en elke siekte en kwaal gesond gemaak.
Hierdie tyd van die jaar word die epifanie fees in die kerk gevier. Dit is ‘n tyd waarin ons na Kersfees oor Jesus se verskyning in die wêreld nading en besin oor die wyse waarop dit mense se lewens aanraak. Ons gaan dus in hierdie week by ‘n paar teksgedeeltes in Matteus rakende Jesus se verskyning, stilstaan.
Dit is baie treffend dat die teks aandui dat Jesus spesifiek klein plekkies besoek het. In die samelewing waarin Jesus opgetree het, was die politieke en ekonomiese mag gesetel in die stede waar belangrike mense hulle invloed uitgeoefen het. Die kleiner dorpies en plekkies was in diens van die koning of heerser se ideale en het gewoonlik wat bestaansmiddele betref aan die kortste end getrek. Wanneer Jesus oor God se koninkryk praat draai hy hierdie beginsel om. God heers nie net deur met konings en regeerders saam te werk nie. Hy bring verandering deur van onder af boontoe in gewone se mense se lewens in te spreek.
Vandag se teks daag ons uit om anders oor God se verskyning te dink. Ons hoop is nie net op ‘n Here wat van bo af deur middel van ’n regering of instansies verandering kan meebring nie. Eerder op ‘n Here wat op die mees onverwagte plekke sy verskyning maak. Wat sou dit vandag vir jou beteken? Moenie die mense en plekke wat in jou lewe gering is en min aandag kry, onderskat nie. Laat jouself dus toe om vandag onder die indruk te kom van hoe God se koninkryk en mag besig is om op plekke waar jy dit die minste verwag, te verskyn.
Gebed
Here, ons bid gereeld dat U in ons lewens en wêreld moet kom skyn. Gee my vandag die nodige aanvoeling en perspektief om te beleef hoe U in my lewe U opwagting maak. Help my verstaan dat u teenwoordigheid veel wyer strek as die grense van kerk en godsdiens waartoe ek u teenwoordigheid gereeld beperk. Help my om U in my lewe te vertrou wanneer insig en wysheid my ontbreek en ek vasgevang voel, omdat ek nie u werkinge kan verstaan nie. Help my om die beste te maak van elke oomblik waarby hierdie dag my gaan uitbring.