Lukas 2:29-31: “Here, nou laat U toe, dat U dienskneg in vrede sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad U verlossing gesien wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het”.
Terwyl ek besig was om te skryf aan hierdie dagstukkies, lui my selfoon skielik. Gewoonlik verkies ek om dit dan nie te antwoord nie, maar ek sien dat dit ’n ou vriend van my is wat jare gelede saam met my in die bediening was. Hy was baie onsteld en kon amper nie sy woorde geuiter kry nie. Tussen die trane deur het hy my meedeel dat sy vrou besig is om te sterf. Sy is al vir ’n geruime tyd baie siek, maar die dokters is nou oortuig dat sy slegs enkele dae oor het om te leef. My oud-kollega het so, tussen deur die hartseer, tog vrede in sy hart gehad oor haar lewe, en die insette wat sy kon lewer in diens aan mense en aan die kerk.
Om vrede te ervaar oor iemand wat sterf, of om vrede te ervaar voordat ek self sterf, is van groot belang. Ek het ook enkele weke gelede verwys na my beste vriend wat ek onlangs in Pretoria begrawe het. Ook daar was die wonderlike getuienis dat hy groot vrede ervaar het voordat hy sy laaste asem uitgeblaas het. Is dit nie ’n wonderlike ideaal nie ? Om met vrede heen te gaan!
Dit is presies wat hier vir ons gesê word in die verhaal van Lukas 2. Simeon, gelei deur die Gees, het na die tempel gegaan en hulle het vir hom die Kindjie gebring om vas te hou. Hierdie kindjie was Jesus. Ons lei af dat Simeon ook al diep in sy jare was, baie na aan sy sterfdag. Sy woorde gryp ons diep aan die hart as hy sê: “Here, nou laat U toe dat U dienskneg in vrede sterf.” Ook Simeon kon sterf met groot vrede in sy hart. Maar hierdie vrede was baie spesifiek en gekwalifiseerd. Dit is die vrede van die verlossing wat Jesus na hierdie wêreld toe gebring het. Daarom sê hy: “My oë het inderdaad U verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het.”
Vriende, die grootste vrede wat ons kan ervaar, in lewe of sterwe, is die feit dat ons aan Jesus Christus behoort. Dat ons nie net alleen Sy verlossing gesien het nie, maar dat ons self ook sy sy verlossing in ons eie lewe ervaar. Mag ons lewe gedryf en gerig word deur hierdie vrede sodat ons ook soos Simeon, te alle tye in ons lewe, maar ook voor ons sterwe sal kan sê: “Here, ek het nou vrede, en ek kan in vrede sterf, want ek het die verlossing gesien.”
Gebed: Here, baie dankie vir die vrede wat U verlossing in ons lewens bring. Amen.