Gedagte vir die dag | Maandag 5 Julie 2021

Die breër spasie van my omgewing:

Binne die integrale lewe besef mens dat jy spasies skep waarin ander ook beweeg. Ek dink aan die kerk en hoe die kerk 50 jaar terug gelyk het. Vrouens het nog met hoede kerk toe gekom, sekere banke was uitgesit vir ouderlinge en diakens. Spasies was geskep waar sekere persone binne die kerk mag wees en daar was spasies waartoe sommiges eers toelating in die kerk moes kry.  Vandag is die kerk natuurlik nie meer so ’n tipe plek nie, die fokus het meer en meer geword soos wat Christus met sy volgelinge gewerk het – ’n spasie waar mense welkom en veilig moet voel.

Die bekende skrywer Simon Sinek vertel die verhaal van Generaal Swanson wat tydens ’n skietery in Afghanistan terug gehardloop het en ’n klomp van sy troepe wat gewond was na die helikopter toe gedra het. Swanson het vir elke troep ’n soen op die kop gegee soos hy hulle in die helikopter gelaai het.  Sinek vra: “ Wat is dit wat hierdie leiers doen wat anders is?” Die antwoord is natuurlik dat hulle skep omgewings wat die beste uit hulle mense haal. Ons moet besef dat ons ook beheer het oor die spasies en omgewings wat ons skep. Die Kolossense skrywer het iets hiervan probeer sê:

Kolossense 3:5-9.  “5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, 9en moenie vir mekaar lieg nie.”

Die skrywer praat van goed wat omgewings sleg maak: onsedelikheid, onreinheid, wellus, begeertes, gierigheid, woede, haat en nyd. Die skrywer se opinie is duidelik: Ons het beheer oor die omgewings wat ons skep, ons kan kies om dit sleg te verpak of om dit veilig en vol ruimte te skep. God daag ons uit om groter ruimte vir ander in ons omgewings te skep.  Waar kan jy ruimte binne jou omgewing vir ander skep?

Gebed:

Here, dankie dat U ons vandag weer kom uitdaag om meer spasie te skep binne die omgewings waaroor ons beheer het. Mag ons meer spasie skep sodat ons  die Koninkryk van God kan sien deurbreek in die hier en die nou.