Matteus 23:3. Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek en gesê: Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het die gesag om die Wet van Moses te vertolk. Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie volg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ‘n vinger verroer om dit te dra nie.
’n Mens beleef dikwels dat gelowiges vanuit die Bybel die regte goed sê, maar so ver verwyder leef van die realiteit wat die Here daardeur wil aanspreek. Dit is een ding om dit wat ons in die Bybel hoor en leer in ons verstand met ons saam te dra, maar iets anders om te weet hoe om dit toe te pas. Ons geloof beteken nie iets as gevolg van die standpunte waarin ons glo nie, eerder in hoe daardie standpunte die aard en karakter van God reflekteer in ons lewens reflekteer en hoe dit ons aanspoor om betekenisvolle lewens te lei. Ons het nodig om die woorde wat ons in die Bybel lees en die godsdienstige gedagtes wat daaruit kom nie net bloot te herhaal omdat ons dit so geleer is nie. Jesus vra in die teks dat ons dit krities oorweeg. Inspireer dit ons om aanpassings te maak sodat ons met vrug kan lewe?
Gebed
O genadige en Heilige Vader, gee my die wysheid om iets van U raak te sien; die intelligensie om iets van U te verstaan; die ywer en geduld om op U te wag; ’n hart wat oor U liefde en heiligheid nadink en ’n lewe wat U grootheid verkondig. Ek vra dit deur die krag van die Gees van Jesus Christus.
Amen