Gedagte vir die dag | Maandag 4 September 2023

Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut”.

Die brief in Openbaring is vir vroeë gelowiges geskryf wie se wêreld om hulle besig was om te verkrummel. God se openbaring aan Johannes het hulle gehelp om hulle hede uit ‘n ander (groter) perspektief te sien. Eerder as die skynbare agteruitgang wys die Here Johannes hoe die Here in hierdie omstandighede besig is om alles nuut te maak. In geloof hou ons vandag aan dieselfde belofte vas. Tog oorheers die realiteit van jare wat by ons verby snel en ook die realiteit dat ons ouer, swakker en meer broos agter gelaat word. Die vinnige pas van voortdurende verandering laat ons skepties vra: “Waar gaan dit alles eindig”? Die nuwe groeiseisoen van lente wat orals om ons bod bring ons in hierdie tyd, soortgelyk aan Johannes se tyd, by ’n openbaring uit. Die lewe wat elke jaar te midde van alles wat gebeur getrou in die natuur bod getuig van God se groter realiteit. Alhoewel ons liggaamlik agteruitgaan word ons innerlik deur God vernuwe. Niks kan dit keer nie. Soos die bloeisels van die lente dring dit na ons deur in ervarings van vergifnis, dankbaarheid, insig en vrede. Neem tyd om in hierdie tyd mooi om jou te kyk en van die nuwe groeiseisoen van lente bewus te word. Raak bewus dat niks God se Gees kan keer wat in jou hierdie selfde lewe bring nie.

Gebed (Liedboek lied 433)

Kom, Skepper Gees, kom met u seën en laat die oes sing in die reën.

Die boom dra vrugte by die stroom en die mense pluk ‘n nuwe droom.

Kom, Skepper Gees, versterk geloof- ons wêreld is vol brand en roof.

Laat ons u vrede oral stig, ‘n vlam wat mense kom verlig.

Kom, Skepper Gees, skenk ons u krag, vul ons met moed vir elke dag.

Ook wanneer pyn en sorge knaag, sal ons met ywer werk en waag.

Kom, Skepper Gees, kom bly ons by, dring ons om ons aan God te wy.

Leer U ons om met hoop te sug, ons oë op die Heer gerig.

Amen.