Gedagte vir die dag | Maandag 4 Januarie 2021

Johannes 14:27. “Vrede laat ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

By almal van ons leef daar ideale en drome oor wat op hierdie dag of dalk môre moet gebeur.  Wanneer dinge dan nie uitwerk soos ons dit beplan het nie, is dit vir ons ’n geweldige terugslag en dit neem ’n mens dan ’n tydjie om oor die teleurstelling te kom. Die vrede waarvan Johannes in ons teks praat werk anders as die gevoel van “tevrede”.  Inteendeel dit word juis intens beleef in tye wanneer ons nie tevrede is nie.  Dit help ons om vry te te kom van ons eie onrealistiese verwagtinge en ’n diep sekuriteit te beleef dat “al sou die vyeboom nie bot nie, ek nogtans in die Here kan jubel”. Herken jy hierdie vrede vandag in jou lewe?

Gebed

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Amen.