2 Korintiërs 9:6-8. “Dink daaraan: wie karig saai sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd en van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”
Oktobermaand is tradisioneel by alle kerke die tyd van hulle tiendemaandinsameling. Iewers deur die loop van die maand sou jy dus bewus geword het van jou eie gemeente wat die appèl rig om ‘n dankofferbydrae te oorweeg en te gee en jy wonder wonder moontlik hoeveel jy moet bydra. Ons lees vandag se teks en glo dat dit die moeite werd is om dan ook jou geld in jou kerk te belê, omdat iewers vorentoe ’n stukkie voorspoed weer na jou kant toe sal terugkom. Tog, is die oorweging in die gedeelte anders. Die oes waarvan gepraat word verwys eerder daarna dat ons gebaar van dankbaarheid ons tot veel meer wil aanspoor as net ons eie toekomstige voorspoed. Die vrygewigheid waarna die teks verwys maak ’n dankbaarheid in ons los om die lewe wat die Here ons gegee het te kan waardeer en iets mooi en besonder daarvan te maak. Gun jouself die geleentheid om dus nie net in die plig van gee vas te kyk nie, maar om die Here toe te laat om deur jou bydra iets groter in jou los te maak wat tot seën van ander kan wees.
Gebed
Here, dankie dat U ons vandag met oorvloed seën. Dat ons genoeg het vir onsself en nog bo en behalwe dit oorgenoeg oor het om te gee en by te dra waar dit nodig is. Help ons met die perspektief dat wat ons het en waarvoor ons hard werk en spaar tydelik is en net geleen is. Soos wat ons met niks in die hierdie wêreld inkom nie, gaan ons ook met niks daaruit, maar wel met die vrede dat ons die lewe as gawe kon beleef.
Amen.