Gedagte vir die dag | Maandag 31 Mei 2021

Gedig deur Koos van der Merwe

 

Mag jy mooi wees as die lelik verby is

En sag kyk na elke harde tyd

Mag jy bly wees as die huil verby is

En vrede hê na die stryd.

 

Verkeerde goed kom môre weer reg

En die wyn is soet na die bitter en die sleg

 

Mag jy opstaan as jy seer geval het

En jou vrae verdwyn as die antwoord kom

Mag jy huis toe kom as jy klaar verdwaal het

En die winter los vir die son

 

En mag jy droom, mag jy ook vergeet

En op plekke woon wat van horisonne weet

 

Jy kan opstaan as jy seer geval het

En jou vrae verdwyn as die antwoord kom

Jy kan huis toe kom as jy klaar verdwaal het

En die winter los vir die son.

 

GEBED

Dankie God,

Ons was moeg, nou roer hoop in ons;

Ons was slagoffers, nou begin ons beheer aanvaar;

Ons was verslaan, nou leer ons leef;

Ons was verlore, nou ontdek ons onsself;

Ons was gevangenes, nou raak ons vry;

Ons was swak, nou raak ons vol krag;

Ons was verraai, nou word ons draers van hoop.

Amen