Gedagte vir die dag | Maandag 31 Julie 2023

 

Ons gaan vir die volgende week se dagstukkies gedeeltes van Paulus se brief aan die gemeente in Filippi lees.

Filippense 1:9-10. Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.

Wanneer ons belangrike besluite neem is dit belangrik om die regte inligting byderhand te hê en die nodige advies van mense met kundigheid in te win. In die gemeente in Filippi was daar onderlinge spanning en onenigheid omdat gelowiges se bronne van informasie en hulle interpretasie daaroor met mekaar verskil het. As gevolg daarvan het hulle gesprekke dooie punte bereik en het hulle verhoudinge skade gelei. Hierdie situasie kom vandag nog gereeld onder gelowiges in gemeentes, families, gesinne en vriende voor wanneer ons met mekaar se verskille te doen kry. Vandag se teks herinner ons aan ‘n belangrike waarheid. Dat ons standpunte en opinies wat op informasie gegrond is nie die bepalende faktor is wanneer dit by besluitneming uitkom nie, maar wel die liefde van Christus. Dit sluit geen mens uit nie en bring ons op dieselfde plek om nuwe oplossing te verken. Paulus se oproep is nie dat ons kennis oor ‘n saak sal verdiep nie, maar dat ons God se liefde kans sal gee om in ons ‘n begrip en fyn aanvoeling te kweek vir dit wat werklik saak maak. Wat staan in jou pad dat die Here in hierdie tyd ons so van binne kan kom raak en verander? Hoe is die Here se liefde besig om deur ingewikkelde kwessies in jou lewe deur te breek?

Gebed

Here, laat die geur van U teenwoordigheid versprei oral waar ons gaan. Versadig ons gees met U liefde en lig; deurdring ons lewe so volkome met die glans van U lig dat dié wat met ons in aanraking kom, bewus mag word van die warmte en heil van U teenwoordigheid wat ons na dieper insigte lei. Help ons Here om in die spanning van soveel opinies en oortuigings vandag te onderskei tussen dinge wat in my lewe afspeel en waarop dit werklik neerkom. Dankie dat U dinge wat kompleks en moeilik is op eenvoudige maniere vir ons kom oopbreek. Amen.