Gedagte vir die dag | Maandag 30 Januarie 2023

Matteus 6:13. Laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.

GEDAGTE

Die onderwerp van versoekings is nie juis een waaroor ons deesdae baie praat nie.  Indien ons wel daaroor praat, is dit meestal grappenderwys.

Die Bybel praat egter nie grappenderwys oor die onderwerp van versoekings nie.  In die Bybel is versoekings ’n ernstige saak.  Die Bybel begin in Genesis met die verhaal van die mens wat swig voor versoekings en dan volg daar vele verhale van versoekings.  Dink aan Jesus se versoeking in die woestyn en in die tuin van Getsemane.  Wanneer Jesus Sy dissipels leer bid, sluit hierdie bede met: “En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.”

Maar waarom is versoekings so ’n ernstige saak?  Omdat dit in versoeking gaan oor die moontlikheid om van God af weggeruk te word.  Dit gaan in versoekings om die moontlikheid dat ons alles kan wen, maar aan God skade ly.  Versoekings het met veel meer te make as met sjokolade, kalorieë en daardie ekstra sousie oor die bord, dit het te doen met die verwydering tussen mens en God.  Ons sien die erns van hierdie versoekinge wanneer ons kyk na die gestaltes waarin  versoekinge na ons toe kom.

Maar versoekings is nie iets wat jy in eie krag kan weerstaan nie. Daarom moet jy eintlik elke dag hierdie gebed bid.

GEBED

Hemelse God en Vader. Daar is soveel versoekings in die wêreld. Ek kan nie op my eie daarteen opstaan nie. Sal U my asseblief bystaan.

Amen