Jesaja 44:33. “Ek sal water gee aan die dorstige land, sodat die strome loop oor droë grond. Ek sal My gees oor jou nageslag gee en hulle voorspoedig maak.”
Dis nogals interessant en insiggewend, oor hoe verskillende lidmate oor die feit dat ons nie in die kerk bymekaar mag kom nie, reageer. Ons as kollegas dink baie na oor kerkmense se terugkeer na die eredienste, en mense se gemaklikheid wanneer hulle in die omgewing van hul huise na ’n preek kan luister en dan voel alles is reg.
Die Franse geleerde Jacques Ellul van Bordeaux, bak nie mooi broodjies wanneer hy as Christen oor die Christendom en die kerk in ons tyd skrywe nie. In sy boek, “Die ondermeining van die Christendom” val hy weg met die volgende woorde: In Afrikaans, “die vraag waarmee ek myself al lankal mee besig hou in die boek, is een wat my diep bekommerd maak. Hoe het dit gekom dat die ontwikkeling en die begin van die kerk en die Christendom gelei het tot die onstaan van die gemeenskap en beskawing, wat totaal die teenoorgestelde is as dit waarvan ons in die Bybel lees”. En dan wys hy op groot verskille tussen die Bybelse en kerklike voorskrifte en praktyke. En hoe Christene dan oor die eeue die Bybel aangepas het om by hul gewoontes en lewenswyse aan te pas, met rampspoedige gevolge. Dit is voor die hand liggend dat ons nie presies volgens die Bybelse voorskrifte kan maak soos hulle gemaak het nie, want hulle het in ’n totale ander kulturele, sosiale, en ekonomiese konteks geleef, baie ook pre-modern.
Meer as ’n eeu gelede het die Deense Teoloog, Kierkegaard, byvoorbeeld al verwys na die vreemde praktyk, wat vir 15 eeue in sogenaamde Christelike lande al gegeld het, om die eed met die hand op die Bybel af te lê, terwyl die eed uitdruklik in die Bybel verbied word in Matteus 5:34.
Die een na die ander ondermeindende praktyk van die Christelike kerk word oor die eeue heen ontmasker. So het ons Christene mettertyd begin vergeet dat die Christelike boodskap eintlik ’n aanstoot en struikelblok vir mense is en het die kerk totaal anders begin lyk as wat dit in die vroeër kerkjare gelyk het soos ons daarvan in Handelinge 2 lees. Gelukkig is Christus nog daar, en die kruis wat in die hart van die wêreldgeskiedenis geplant is, kan nie ontwortel word nie. Boonop werk die Heilige Gees nog onverpoos voort in die harte van mense.
Maar dan moet ons wakker word. Die misdryf van die kerk is nie moord, diefstal, en al daardie afskuwelike dinge nie. Die grootste misdryf van die kerk, is sekerlik die sonde van slaap. Soos die Spreuke digter dit byna kras stel in Spreuke 10:5: “’n mens wat die oestyd deur slaap, verdien veragting”. Daarom moet ons as geloofgemeenskap, as NG kerk, en as Christelike kerk in hierdie land wakker wees, want ’n lewende kerk kan gesien en gehoor word.
Gebed: Here maak ons waaksaam, maak ons sensitief dat ons die gestalte van Jesus in hierdie wêreld kan wees. Amen.