Gedagte vir die dag | Maandag 28 Februarie 2022

Hebreeuse 2:18.Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy die help wat versoek word.

Ons gaan nou ’n tyd van die jaar binne wat ons lydenstyd noem en wat oor sewe weke uitloop in die gebeure in Jerusalem toe Jesus gely het, gekruisig is en uit die dood opgestaan het. Die bedoeling van dié tyd is nie net om ons gedagtes in ’n rigting te lei nie, maar dat ons die lydenstyd op ’n manier aan ons lywe voel.  Dit is wanneer jy die fisiese en psigiese seer en swaarkry aan jou lyf voel dat vanoggend se teks vir jou diep betekenis kry.  Die Here kan jou help, want Hy weet hoe dit voel om aan omstandighede uitgelewer te word.

Wat dra jy in hierdie jaar se lydenstyd met jou saam?  Wat is die seerkry en swaarkry wat jou in die afgelope tyd oorweldig het en jy voor die Here wil bring. Reis saam met ons in die gemeente in die volgende paar weke van lydenstyd waarin daar ’n klomp aktiwiteite plaasvind. Sien ons weeklikse afkondigings daaroor.  Raak in hierdie tyd bewus van die eenvoudige realiteit dat God jou hulp is. Hy weet hoe jy voel en dit is Hy wat vir jou in hierdie tyd vrede bring.

Gebed

Here, die jaar het sopas op spoed gekom en ons is almal besig met ons vaste roetines. Help ons om in hierdie lydenstyd van rat te verwissel.  Breek ons roetines sodat ons in eenvoud saam met ander u lydensweg kan beleef en ook daarin kan ontdek hoe U die pad saam met ons elkeen stap. Maak hierdie woorde van ‘n baie ou lydingslied in die volgende paar weke deel van jou asemhaling.

Vervul, o Heer, my hart met stille wyding waar ek herdenk die diepte van u lyding. U lyding breek my trotse hart en rede; dit buig my neer, en skep in my u vrede . . .  vrede wat my verander”.