Efesiërs 5:15 en 16. “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.”
Met die jaar 2020 wat nou vinnig tot sy einde kom, is elkeen van ons seker besig met die vraag: “Het ons die beste gebruik gemaak van elke geleentheid wat hierdie jaar oor ons pad gebring het? Het ons voluit gelewe deur geleenthede aan te gryp, of het ons in ’n hoekie gaan sit met selfbejammering en gekyk hoe die lewe voor ons afspeel?”
Ek het al met ’n vorige dagstukkie gemeld, dat my beste vriend onlangs oorlede is. Jare terug het hy ’n baie slegte tyding van die dokter ontvang rakende sy gesondheid. (Hy is later aan ’n heeltemal ander oorsaak oorlede). Die dokter het aangedui dat my vriend ongeveer twee jaar oor het om te lewe. Terwyl hy terugry huis toe om die nuus met sy vrou en kinders te deel, het hy besluit hy gaan voluit lewe tot die dag wat hy doodgaan. Die dokter het vir hom gesê hy is terminaal siek, maar hy het besluit hy is terminaal gesond. (Dit is sy eie woorde en omskrywing). Dit het so ’n obsessie by hom geword dat hy later ’n boek daaroor geskryf het: “Terminaal gesond!” Omdat ek baie saam met hom gereis het, weet ek hoe hy die lewe en elke geleentheid aangegryp het om voluit te leef en tot die uiterste te geniet.
Orwille Kelly, het ook so die slegte nuus gekry dat hy besig is om te sterf aan ’n aggressiewe kanker en dat hy volgens die dokter twee jaar oor het om te lewe. Nadat hy die nuus met sy vrou en kinders gedeel het, en baie daaroor gehuil het, het hulle besluit om ’n groot partytjie te hou. Hulle het toe al die mense uitgenooi vir wie hulle die meeste omgegee het en dit was ’n groot feesviering! Die gaste het nie geweet wat die rede vir die partytjie is nie, totdat Orwille opgestaan het en in ’n toespraak vir hulle gesê het: “Julle wonder seker waaroor ek julle hier bymekaar geroep het vir hierdie partytjie. Wel, dit is ’n kanker-partytjie! Die dokter het vir my gesê ek het terminale kanker. Ek en my vrou het besluit om ’n nuwe organisasie te begin, dit word genoem: M.T.C (Make Today Count) en julle is almal genooi om lede van die organisasie te word.”
M.T.C het drasties gegroei en Orwille het ’n nuwe waardering vir die res van sy lewe ontwikkel en het ook oral oor sy land vir mense vertel om die meeste te maak van die beperkte tyd wat hulle gehad het.
Hoe maak ons vandag die beste gebruik van elke geleentheid? Is daar dalk onafgehandelde besigheid in jou lewe, of die noodsaak om iets vir iemand te sê, of om iemand te gaan vergewe, of gewoon net juigend te wees oor die dag van vandag. Maak jy soos Paulus sê, die beste gebruik van elke geleentheid?
Gebed
Here, ek kies om vandag aan te gryp en die beste daarvan te maak. Amen.