Ek is baie lief vir die Psalms. Dis asof Dawid presies weet wat om te skryf wat my hart ook aanraak. Vir die volgende paar dae gaan ons by ’n paar Psalms stil staan wat dalk nie so bekend is nie. Ek hoop jy geniet die reis.
Lees: Psalm 17
Teks: Psalm 17:8 “ Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels
GEDAGTE
Wie is jou oogappel? Oogappel is ’n woord wat beteken iemand wat baie spesiaal, baie dierbaar, vir jou is. Vir ons is die simbool van ’n oogappel gekoppel aan ’n gunsteling. In die Bybel beteken oogappel die een wat jy altyd onder oë het. Die een wat jy in die oog hou. Nou dit is presies hoe God na ons kyk. Hy hou ons in die oog. Hy laat ons nie uit die oog gaan nie.
In hierdie Psalm vra Dawid vir die HERE om sy oogappel te wees. Het jy dit al van die HERE gevra – dat jy sy oogappel mag wees? Of voel jy dalk te onbelangrik om dit te wees? Dink jy, daar is sekerlik ander mense wat meer kans staan om God se oogappel te wees . . . maar elkeen van ons is so spesiaal vir God dat Hy ons sy oogappel noem en ons so beskerm en ons nooit uit die oog verloor nie. Ook jy wat vandag hier lees is God se oogappel.
Daar is tye dat jy dink God kyk anderpad – wanneer dit swaar gaan. Dan voel ’n mens dikwels dat jy eerder God se stiefkind as sy oogappel is.
Soos verskeie Psalms wil dié Psalm ons dus nie troos dat ons ’n lang en veilige aardse bestaan sal hê nie. Wat wil die psalmis dan wel vir ons sê? Dít: dat jy tot rus kan kom te midde van al die gevare en bedreigings van die lewe, omdat God by jou is; dat jy by Hom kan skuil wanneer die lewe moeilik raak; dat jy nie bang hoef te wees vir noembare en onnoembare bedreigings nie. God is immers daar. Hy het altyd Sy oog op jou. Hy red waar jy nie kan nie. Daarom hoef jy nie angstig rond te kyk, of te dink jy is op jou eie nie. Daarom kan jy ook vandag vashou aan die sekerheid. Die Here omhels jou, die Here vertroetel en versorg jou soos die appel van sy oog.
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie dat ek u oogappel kan wees en dat U altyd u oog op my het. Ek rus in die wete dat ek veilig is by U.
Amen