Hebreërs 3:7-9. Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het ten My in die woestyn op die proef gestel het.
Hoe is die Here besig om vandag met ons te praat en hoe onderskei ons wat die Here vir ons wil sê? En dan die baie praktiese vraag: Hoe reageer ons daarop? Wanneer ons die komende week met teksgedeeltes uit die boek Hebreërs besig gaan wees gaan ons oor hierdie vrae nadink.
Ons is in kerk en kategese geleer dat God hom op twee maniere openbaar. Die hervormer Johannes Calvyn het gesê dat daar geen nasie so barbaars of verlore kan wees dat hulle nie ‘n algemene bewussyn van God het nie. Deur sy algemene openbaring is God vandag oral en by almal en kan daardeur tot mense nader. Maar God het in die besonder gekies om in die gestalte van ‘n mens tot ons te nader, sodat ons daardeur op ‘n dieper en meer persoonlike vlak tot God kan nader. Die Heilige Gees, wat die Gees van Christus is, speel hierin ‘n belangrike rol omdat dit ons gedurig troos, leer, lei, oortuig en vorm. Hoe is die Here besig om op hierdie besondere wyse met ons te praat wanneer hy vandag ons eie hardkoppigheid uitdaag? Soos die Israeliete eens in die woestyn gedoen het, is dit dikwels vir ons maklik om die goed waaroor ons ongemaklik voel, te ignoreer. Mag ons opnuut ontdek hoe die Here deur ons opstandigheid breek om in ons ‘n vrede te bring wat ons dae nuwe betekenis gee.
Gebed
Here, bewaar my vandag van die lafhartigheid wat dit nie waag om nuwe waarhede te ondersoek nie. Here, bewaar my van die luiheid wat tevrede is met halwe waarhede. Here, bewaar my van die verwaandheid wat dink dat ek al die antwoorde het. Here, wees vandag my skild teen dwaasheid.