Gedagte vir die dag | Maandag 26 April 2021

1 Samuel 16:7.  7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

Samuel het gedink hy weet wat God in ’n nuwe koning wil hê – iemand soos Saul. Samuel se idee van wat regtig saak maak wanneer dit kom by die tipe persoon wat God sou gebruik om sy volk te lei, was heeltemal verkeerd. Soos ons, was Samuel meer geïnteresseerd in die toekomstige koning se uiterlike voorkoms as oor dit wat in sy hart aangaan.

Vir die grootste gedeelte van ons lewens fokus ’n mens op die uiterlike. Hoe ’n mens lyk, presteer, wat ander van jou dink,  besittings en wat ’n mens doen. Ons spandeer meeste van ons tyd, ons geld en ons aandag aan ons uiterlike lewe. Dit is vir ons verskriklik belangrik dat ons beeld na buite vir mense goed lyk.

Maar vir God is die innerlike ook belangrik. Dit maak nie vir Hom saak wat ons bankbalans is, of wat die skaal sê, of wat ons kwalifikasie is nie. Wat vir God belangrik is, is die toestand van ons harte. Omdat Hy ons liefhet, is die toestand van ons harte vir Hom van belang. Ons het ’n innerlike mens wat vir ander mense nie sigbaar is nie, maar wel vir God sigbaar is. Hierdie innerlike mens is eintlik meer belangrik vir God as ons uiterlike mens, dit wat almal sien, want leer die Bybel ons – God kyk na die hart van mense. Want jou innerlike mens is die ware jy, nie die voorgee jy nie.

GEBED

Here maak my nuut van binne. Ek wil heilig voor U lewe. Amen