Gedagte vir die dag | Maandag 25 Januarie 2021

Filippense 3:8.  “Ja, meer nog: Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.”

Bob Buford het ’n aangrypende boek, Halftime, geskryf. Die deurlopende tema in hierdie boek, gaan oor: “how to change from success to significance.”  Hoe om van sukses na betekenis te verander.  Alles in ons wêreld gaan oor sukses, en hoe om suksesvol te wees. Maar werk dit altyd alles uit?

Freddy Mercury, die bekende sanger van Queen wat aan Vigs oorlede is, het gesê: “Success has brought me world idolisation and millions of pounds, but has prevented me from the one thing that we all need – a loving ongoing relationship.” Ons kan daarom vra: “Was hy toe op die end suksesvol? “

Sukses kan so maklik gedefinieer word deur ’n klomp geld wat ek gemaak het, my besittings, krag en aansien. Maar Freddy, saam met so baie ander, het ontdek dat jy alles in die lewe kan hê, en nogtans niks het nie.  Hy het nooit die tree gemaak van sukses na betekenis nie.  Natuurlik is daar niks mee verkeerd om sukses na te streef nie.  Die nastrewing daarna, moet net nie allesoorheersend in my lewe raak nie. Dit wat ek bymekaar maak in my lewe, moet werklik dinge van betekenis wees, vir mense rondom my, vir myself en veral ook ten opsigte van my verhouding met God.

Dit is altyd goed om te weet wat God as suksesvol beskou. Dit is nie alleen materiële voorspoed soos baie mense in die voorspoed teologie daaroor dink nie. Dit gaan oor waarde wat jy tot mense se lewens voeg, dit gaan oor koninkrykswaardes wat gevestig moet word in ons wêreld. Zig Ziglar het geskryf: “Success is not measured by what you do compared to what someone else does, but how you compare to what you could have done with what God gave you.”

In 2021 gaan daar geweldig baie uitdagings wees, en sal ons baie groot besluite moet neem oor ons kollektiewe en persoonlike toekoms. Kom ons hoor wat Paulus in hierdie gedeelte leer vir sy lidmate.  Hy was vir ons ’n voorbeeld daarin om betekenisvolle dinge na te jaag, daarom beskryf hy alles as waardeloos, behalwe om vir Christus sy Here te ken. En dit oortref alles in waarde.  Paulus moedig ook die gemeente in Filippi aan om positief en opbouend te dink. Hy stel dit pragtig: “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug daar ook al mag wees, daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Gebed

Here leer my om nie alleen materiële voorspoed na te jaag nie, maar veral hoe en  waar ek waarde kan toevoeg deur U in my lewe. Amen.